Rooikappie

Langs ‘n boom in ‘n bos skuil ‘n wolf met ‘n hoed.

Sy jas is geskeur en verblyk.

Hy droom hy kry kos en ‘n mandjie vol goed

en dan sien hy hoe sý vir hom kyk.

 

“Moenie hardloop of skree nie” Hy kan nie nou oortree nie

dink die wolf as hy na haar toe stap,

maar sy glimlag en fluister: “Wat’s jou naam, wolf? Ek luister.”

en dan antwoord hy: sy naam is Jap.

 

“Ek is Rooikappie” sê sy, en eers sit sy, dan lê sy,

want haar paadjie is nou maar eers half,

maar die wolf vra waar gaan sy en sy antwoord “Gans-kontrei”

en vertel van haar ouma se kalf.

 

Nou is wolf opgewonde, want daars skape en honde

en daar’s beeste en hoenders en graan.

So hy groet vir Rooikappie met ‘n outydse grappie

sodat hy na haar ouma kan gaan.

 

Eers spring hy oor die heining en bewerk die verdwyning

van die hoenders en skape en graan

en dan sien hy die ouma in ‘n skanse beswyming

waar sy uitgepaas lê in die laan.

 

Hy stap nader en nader na waar kraaie vergader

om te sien of sy dood is of slaap.

Sy is doodstil en wasbleek, so wolf stap effens nader,

maar dan gee die ou vrou ‘n groot gaap!

 

Wolf is seker sy’s dronk, of het verstik aan ‘n stronk

of selfs dat sy haarself so ooreet het,

want die reuk wat daar sweef en aan haar klere vaskleef

laat hom onthou wat hy lankal vergeet het.

 

Van die tyd toe hy klein was, nog voor hy ge-”train” was

om self sy ou kossies te vang.

Toe sy ma nog gejag het, en mense verag het,

in daai dae was hulle nog bang.

 

En die sagte ou vleisies van die kinders en meisies

het sy tone laat krul van genot

en toe skielik onthou hy, van die oumas se vuisies

op dáárdie vleis was hy versot!

 

Toe verslind hy die ouvrou sonder enige berou

sodat daar net ou bene oor was.

Dis net toe dat hy hoor hoe Rooikappie kan toor

met ‘n liedjie oor Haasdas se Nuuskas.

 

Die fyn kind met die kappie en ‘n wip in haar stappie

het voor om die huis aangekom

met ‘n mandjie vol kaas, brood en melk van die plaas

en ‘n kersfees-rooi-angelier-blom.

 

“Hallo Ouma!” roep sy en klim die trappies op stoep toe

sonder dat sy ooit oplet daars fout,

maar ou wolf haas hom in, aan haar steur hy hom min,

want sy maag voel nou skielik benoud.

 

Weereens roep sy die ouvrou en ewe getrou

stap sy om na die agterste deur

en dis toe dat sy oplet, na die bene en spekvet

en die uiters onaardige geur.

 

Nou was Rooikappie woedend en die wolf niksvermoedend

toe sy daardie ou groot-byl gaan haal.

Sy’t haar kappie verwyder met moorddadige ywer

en vir wolf in die huis uitgehaal.

 

Agterna het sy eers al die hare en vlees

in ‘n sak gegooi om te verbrand,

maar wraak het haar verraai, verdriet in haar gesaai

en wolf het in die groot pot beland.

 

Baie stories is daar oor wolf en sy gevare,

maar min mense weet iets van haar.

Daardie oulike kind met die kappie en lint

en die byl wat nooit stof kan opgaar.

 

Leave a Reply