Jong Stemme en ‘n reis Ysland toe!

Vir die wat op Facebook volg is dit teen nou al ou nuus dat ek aan PEN Afrikaans se Jong Stemme kompetisie deelgeneem het en as een van Suid-Afrika se twee finaliste vir PEN International se Young Voices Award benoem is. Die internasionale kompetisie het die 20e Junie 2013 gesluit en daar moes drie vertalings (Engels, Spaans en Frans) van die aanvanklike Afrikaanse kortverhaal ingestuur word, saam met die oorspronklike wat nie korter as 2000 woorde en nie langer as 4000 woorde kon wees nie.
Die drie finaliste vir die PEN International Young Voices Award 2013 word dan na Ysland genooi, waar die wenner tydens die 79e PEN International Congress in September vanjaar aangekondig sal word. Die wenner ontvang $1000 en sy of haar kortverhaal word ook gepubliseer.

PEN Afrikaans het hierdie week in hul nuusbrief die twee Suid Afrikaanse finaliste aangekondig. Die voorsitter van PEN Afrikaans, Sonja Loots, het die volgende te se gehad aangaande die kompetisie.

“Elke sentrum het die geleentheid gekry om twee skrywers jonger as 30 in te skryf. Aangesien die wedstryd wil dien as aanmoeding tot vertalingsgeleenthede, moes alle sentra onderneem om hul wenverhale in Engels, Frans en Spaans te laat vertaal. Hoewel daar geen inskrywingsfooi was nie, was daar natuurlik wel koste verbonde aan dié vertalings.

Ons is bly dat ons die twee benoemdes – Christina van Deventer en Danie Stander – die kans kon gun om saam met soveel jong skrywers uit ander tale internasionaal aan die kompetisie deel te neem. Hul verhale is spesiaal vir die kompetisie geskryf en dié oorspronklike werk ding nou internasionaal mee. Indien hul verhale die internasionale beoordelaarspaneel beïndruk, kan Christina en/of Danie $1000 en ’n gratis reis na Reykjavik wen. Die weninskrywing word ook in die PEN International-tydskrif gepubliseer.

Selfs indien ons finaliste nié wen nie, kry hulle waardevolle blootstelling deurdat hul werk gelees word deur die invloedryke beoordelaarspaneel. Carole Blake van die literêre agentskap Blake Friedmann, wat Afrikaanse skrywers soos Deon Meyer, Marlene van Niekerk en Etienne van Heerden verteenwoordig, is een van die beoordelaars. Só hou ons Afrikaans dus op ’n klein manier in die oog.

Altwee hierdie jong skrywers is terloops ewe vaardig in Engels as Afrikaans (een van die twee praat ook Yslandies). Hulle het dit opwindend gevind om saam met die vertalers te werk en was baie opgewonde oor die kans om internasionaal mee te ding. Ek glo graag dat projekte soos hierdie, wat geleenthede in Afrikaans skep, meehelp om te keer dat talentvolle Afrikaanssprekendes volledig na ander tale migreer. Deur die kompetisie het ons ook ’n mentorskaprol vir jonger skrywers vervul.”

Ja, ek is die een wat Yslandies praat, so ek sal nie sukkel om reg te kom in Ysland indien ek een van die drie finaliste sou wees nie. *Skimp skimp;-)

Vind meer uit oor die kompetisie, en natuurlik oor die belangrike werk wat die PEN organisasies wereldwyd vir skrywers en meningsvryheid doen (by die aangehegde skakels) en hou asseblief duime vas vir my dat ek Ysland toe genooi word en wen. Dan sal ek een droom nader wees daaraan om al my drome te bewaarheid. Mens moet immers probeer.

http://www.litnet.co.za/Article/jong-skrywers-wen-1000-en-n-reis-na-reykjavik
http://www.pen-international.org/pen-internationalnew-voices-award/
http://www.litnet.co.za/Article/brief-van-die-voorsitter-24062013
http://www.facebook.com/PenAfrikaans